Saturday 19 April 2014
Home / News / Kuns haar passie

“TOE hulle my naam roep, was ek só bly dit het vir my gevoel asof ek gaan flou word.”

Só sê Irene Visser wat Saterdagaand, 16 Februarie, in Kimberley in die Noord-Kaap het Talent-kompetisie die derde plek in die handwerk-, kuns- en modeontwerp-afdeling opgeraap het.

Dié kompetisie deur die departement van sport, kuns en kultuur se doel is om kuns en kultuur te ontwikkel en terselfdertyd landelike ontwikkeling ’n hupstoot te gee.

Visser het in die eerste ronde van die kompetisie op Topline ’n masker, wynvat en staanlamp uitgestal. Al drie dié artikels word van kalbasse gemaak wat Visser behandel en versier.

Sy het die eerste ronde gewen en het verlede jaar tydens die Erfenisdagvieringe van haar kalbas-produkte op Upington uitgestal.

Slegs Visser is uit die Kheis-distrik gevra om die laaste ronde van die kompetisie in Kimberley by te woon.

Volgens Visser het die beoordelaars haar kalbasprodukte as “mooi, uniek en iets heel anders” beskryf.

“Ek geniet my werk vreeslike baie,” het sy gesê en op die vraag waar sy haar idees kry, geantwoord: “Aanvanklik het ek net heel natuurlik op die kalbasse geverf, maar nou gee Wollie Burger, eienaar van die Kalbas-padstal, sekere idees oor watter motiewe gaan werk, dan sit ek my idees by en so kom die hele proses baie natuurlik bymekaar.”

Dit neem ongeveer twee dae om ’n kalbas te versier. Dit word eers voorberei waarna die gate volgens ontwerp ingeboor word. Dan word die patrone geverf voordat die kalbas behandel word sodat die patrone nie verdof nie. Dan is ’n nederige kalbas in ’n lamp, kershouer, bak, spaarbussie en nog vele meer omgetower.

Visser geniet dit die meeste om lampe te maak. “Alles is vir my lekker, maar die lampe het ’n spesiale plek in my hart,” het sy gesê.

Haar kalbasprodukte is al so ver as Durban en Kaapstad versend en “ons het selfs ’n paar kalbasse oorsee gestuur”. Visser was die enigste wenner wat ’n prys vir handwerk ontvang het en sy wil haar prysgeld gebruik om vir haar ’n huis in Topline, waar sy woon, te bou.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
HAVE YOUR SAY Suggest future poll
2014 Verkiesings
Langs watter party gaan jy jou kruisie trek?
ANC
DA
VF+
Ander
top
bottom