Sunday 21 September 2014
Home / News / Vyf in ongeluk beseer

VYF mense is beseer in nog ’n ongeluk waarin ’n toetsmotor betrokke was.

Dit is die tweede toetsmotor-ongeluk in die afgelope paar maande.

Vyf mense is verlede Dinsdag met ligte beserings in die Gordonia-hospitaal opgeneem nadat ’n Porsche-toetsmotorbestuurder na bewering versuim het om by ’n padwerkversperring te stop.

Die bestuurder het by twee vragmotors verbygery en veroorsaak dat twee bakkies teen mekaar gebots het.

Dit volg op die noodlottige ongeluk ’n maand gelede waarin ’n SANParke-bestuurder en sy dogter omgekom het. Dié Golf VII-toetsmotorbestuurder is onlangs weens hul dood aangekla.

Die jongste ongeluk het omstreeks 07:00 op die N14 by die Ses Brugge-afdraai gebeur.

Volgens Enslin van der Westhuizen, bestuurder van Supa Quick op Upington, was sy personeel op pad werk toe. Hulle was in ’n konvooi motors wat deur die padwerkversperring gery het.

Die Porsche-bestuurder, wat van voor gekom het, het twee vragmotors verbygesteek wat by die padversperring gestop het.

Hoewel beamptes by die versperring die Porsche-bestuurder probeer stop het, het hy glo verby gejaag.

Die bestuurders in die aankomende baan het die toetsmotor probeer vermy. Van der Westhuizen sê sy personeellid het beheer verloor en teen die bakkie voor hom gebots. Die werknemers van Supa Quick, Tom Okkies, Nicolaas Koopman, Aubrey Esau, Lewies Duimpies en Ricardo Plaatjies, is gistermiddag uit die Gordonia-hospitaal ontslaan.

Volgens kapt. Jacques September, polisiewoordvoerder, ondersoek die Rosedale-polisiekantoor ’n klag van roekelose of nalatige bestuur.)Benjamin Werkshage (30), ’n werknemer van Volkswagen, is op 7 Februarie op borgtog van R200000 vrygelaat nadat hy op twee aanklagte van moord in die hof op Upington verskyn het. Die verhoor is tot 7 Augustus uitgestel. Dit kom nadat die direkteur van openbare vervolging die klag van strafbare manslag na moord verander het.

Werkshage was na bewering op 26 Januarie sowat 70km buite Upington op die pad na Askham in ’n botsing reg van voor betrokke. Hy het volgens ooggetuies glo aan die regterkant van die pad gery.

Raymond Jansen (38) en sy tienjarige dogter, Kaitlyn, is in die botsing dood. Die impak van die ongeluk het albei motors aan die brand laat slaan. Jansen was in die motor vasgepen waar hy doodgebrand het.

Sy vrou, Amanda, en seun Raymondé (13 maande), is later na die die Mediclinic, George, oorgeplaas. Hulle is ontslaan en sterk by die huis aan. “My seuntjie kan nog nie loop nie, want sy gebreekte linkerbeen het nog plate in. Sy steke word vandag uitgehaal. My regterbeen en linkerarm is gebreek. Ek het ’n pen in my been. Ek sal eers oor drie maande kan loop,” sê Jansen. Haar seun Bradley (16) sukkel nog om die dood van sy pa en suster te verwerk.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom