Tuesday 21 October 2014
Home / News / Twee van streek in nuwe bundel

’N BORDJIE VERGIFNIS, ’n bundel kortverhale, is Vrydagaand in The Mill op Upington bekend gestel.

Die bundel, saamgestel deur Anzil Kulsen, bekende skrywer op Upington, bevat inspirerende kortverhale deur bekende mense soos Amy Kleinhans, Christo Davids (van 7de Laan) en ook gewone mense wat hul inspirerende stories met ander mense wou deel.

Kulsen sê Lapa wou ’n nuwe genre van ’n Christelike en inspirerende aard aanpak.

Sy en Lapa het dus op die idee gekom om inspirerende verhale in ’n bundel saam te voeg. Bekende televisie- en radio-persoonlikhede is genader en die tydskrif Kuier het ’n kompetisie begin waarin hy mense gevra het om hul stories in te skryf.

Volgens Kulsen is meer as 200 inskrywings ontvang en het twee van die skrywers wat gekies is, van Upington en Kakamas gekom.

Lisl Fair van Kakamas se verhaal is onder die skuilnaam Elizabeth Hancke in die bundel ingesluit.

Fair sê die geskiedenis van Kakamas het haar geïnspireer.

“Ek en my gesin het eendag ’n koppie naby Kakamas geklim en toe dink ek aan die film An Englishman who climbed up a hill and came down a mountain en ek dink aan hoe die eerste inwoners van Kakamas die kanaal met die hand gegrawe het en hoe dit hulle moes verander.

“Daarby het die verhaal van vroue wat randfigure in daardie tyd was my altyd gefassineer. En daar het die verhaal ontstaan.”

Hoewel Fair die skryf van ’n kortverhaal as moeilik en uitdagend beskryf het, het Joanna Gouws van Upington haar kortverhaal in slegs een dag geskryf.

“’n Foto van ’n vriendin toe sy klein was het my eendag opgeval. Ek was so vasgenael deur die hartseergesiggie op die foto dat ek sommer begin huil het. Ek het een oggend opgestaan en die verhaal in een dag geskryf en nog twee dae gevat om dit te redigeer.”

Volgens Kulsen is al die verhale in die boek gekies, omdat hulle wys “dit nie saak maak wat jou omstandighede is nie, daar is altyd hoop”.

En met dié resep het sy beslis ’n wenner geskep, want volgens Kulsen is daar sedert die boek in Desember uitgereik is reeds meer as 800 boeke verkoop.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom