Tuesday 21 October 2014
Home / News / Roeiers kom toon vernuf

DIE Groen Kalahari-kano-marathon vind vanjaar die tweede keer plaas en beloof om net so ’n groot sukses te wees as in 2012.

Vanjaar gaan die roeiers die driedaagse marathon van 21 tot 23 Maart van Upington tot by Khamkirri naby Augrabies aanpak.

Verlede jaar was die marathon in K2-formaat, maar word vanjaar in K1-formaat aangepak. Die kode verwys na die aantal mense in die kano.

Gawie Nieuwoudt, organiseerder, sê die marathon is verlede jaar deur van Suid-Afrika se bekendste roeiers bygewoon.

“Die roeiers het veral die omgewing en sy mense, die vriendelikheid, gasvryheid en die veiligheid op die water as hoogtepunte uitgesonder. Hulle dink dit was een van die beste marathons tot nog toe in Suid-Afrika,” het hy gesê.

Die marathon het nie net groot toerisme-waarde vir die streek ingehou nie, maar ook wêreldbekende roeiers na die streek gebring.

Volgens Nieuwoudt is Hillary Pitchford en Abby Adie, wat die vrouewenners was, onder die tien topvroueroeiers ter wêreld. Lance King, Heinrich Shloms, Eric Zondi (derde in vanjaar se Dusi), Michael Mbandwa (voormalige Dusi-wenner), Pierre-André Rabie en Gavin White het almal verlede jaar aan die marathon deelgeneem en beloof om vanjaar terug te keer. Shloms en King het verlede jaar gewen.

Die Groen Kalahari-kano-marathon bied ’n wonderlike toerisme-inspuiting vir die omgewing.

“Ons was baie gelukkig, want etlike tydskrifte en koerante het oor ons geskryf en ons was verskeie kere op televisie.

“Ons reken ons het ongeveer R1 miljoen se blootstelling aan die toerisme-omgewing verleen,” het Nieuwoudt gesê.

Verlede jaar het 48 roeiers deelgeneem, maar Nieuwoudt hoop vanjaar sal 100 roeiers die marathon aanpak.

“Belangriker is egter dat ons groter gemeenskapsbetrokkenheid wil hê. By die wegspring, plekke langs die rivier en by die einde moet daar oral mense saam met ons kom kuier.

“Dit is die grootste sportbyeenkoms in die streek, kom neem deel.”)Op dag een roei die deelnemers van Upington tot by Oranjerus (34km), op dag twee roei hulle 39km vanaf Ikaia op Keimoes tot by Die Mas op Kakamas. Op dag drie spring hulle by Die Mas op Kakamas weg en eindig ná 26km by Khamkirri op Augrabies.

Vir verdere inligting besoek www.gkcm.co.za of www.facebook.com/gkcanoemarathon.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom