Wednesday 26 November 2014
Home / News / Nalatigheid glo rede vir sterfte

’n KLAG van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek nadat moontlike nalatigheid tot die dood van ’n vragmotorbestuurder gelei het.

Die nalatige oopstel van ’n pad waaraan gewerk word vir verkeer in albei rigtings kon moontlik tot die noodlottige botsing aanleiding gegee het.

’n Boer van die Grootdrink-distrik, Pieter Theron, is dood en nog ’n man ernstig beseer toe Theron se druiwevragmotor Donderdagmiddag sowat 40km buite Groblershoop op die N10 teen ’n ander vragmotor gebots het.

Die bestuurder van die ander voertuig, Kobus Burger, is ongedeerd, maar ’n insittende, Gordon Ntong, het beenbreuke opgedoen en is in die intensiewesorgeenheid in die Kimberley-hospitaal. Hy moes deur die brandweer uit die vragmotor bevry word.

“Hy is nie by sy positiewe nie, maar reageer wel,” het Wollie Burger gesê wat saam met sy broer, Kobus, op die Opkyk-landgoed by Grootdrink boer.

Hy meen daar was sonder twyfel nalatigheid aan die kontrakwerkers se kant. Die botsing is moontlik veroorsaak deurdat die werkers die pad oopgestel het nog voordat die padtekens verskuif is sodat die padverbruiker kon sien in watter baan gery moet word.

“Ek het self so 15 minute voor die ongeluk dieselfde pad gery en het gesien hulle is besig om die padteken te verskuif, want hulle was op pad huis toe.”

Volgens lt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, word die presiese besonderhede van die ongeluk nog ondersoek.

“Na bewering het ’n vragmotor wat van Groblershoop na Grootdrink op pad was uitgeswaai vir ’n padteken in die pad en dit het van voor teen ’n aankomende vragmotor gebots.”

Volgens ’n ingenieur wat op konstruksieterreine werk, Francois Burger, is dit van kardinale belang om die verkeer aan albei kante te keer wanneer tweerigting-verkeer by konstruksieterreine herstel word.

“In hierdie tyd het die kontrakteur tyd om alle tydelike verkeerstekens te verwyder om sodoende nie verwarring te veroorsaak wanneer die pad weer vir verkeer oopgestel word nie.

“Uit ondervinding is dit baie moontlik dat dié proses nie volgens prosedure plaasgevind het nie,” het Burger verduidelik.

Hy meen wat moontlik gebeur het, is dat swak beplanning of kommunikasie daartoe bygedra het dat verkeer van albei kante te vroeg toegelaat is om te ry.

“Volgens ooggetuies was die werkers steeds besig om die tekens van die middellyn van die pad te verwyder toe die verkeer van albei rigtings die pad begin gebruik het.

“As gevolg hiervan was daar duidelik ’n voorval waarin die dieselvragmotor ’n noodrem moes gebruik omdat die bestuurder nie kon uitswaai weens die aankomende verkeer nie.”

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE & BACK COPIES

top
HAVE YOUR SAY Suggest future poll
Vakansie
Gaan jy die vakansie …?
Weg met vakansie
Tuisbly
Na familie vir Kersfees
top
bottom