Tuesday 02 September 2014
Home / News / Twee

EEN van die vermeende moordenaars van die Kurumanse sakeman At Fraser is steeds op vrye voet nadat hy verlede maand uit polisie-aanhouding ontsnap het.

Dumizani Molehawe het saam met ’n vermeende inbreker, Thlamelo Motswakgosi, uit ’n bewegende polisievangwa ontsnap.

Fraser is op 4 Julie verlede jaar in sy huis op die dorp beroof en koelbloedig in die hart geskiet. Sy vrou, Maryna, is ook gewond.

’n Klein bedrag geld, ’n handwapen en ’n haelgeweer is geroof.

Maryna Fraser moes ná die rooftog en moord op haar man ’n operasie ondergaan. Die rowers het haar in die skouer geskiet en haar sleutelbeen afgeskiet.

Molehawe en nog een van die vermeende moordenaars is in Oktober in ’n deurbraak deur die polisie vasgetrek. Op 30 Januarie het hy en Motswakgosi, wat in ’n ander verhoor teregstaan, tussen die hof en die tronk uit ’n bewegende vangwa gespring en ontsnap.

Sergio Kock van die polisie sê die twee mans was onder 15 gevangenes wat laatmiddag van die landdroshof na die tronk gebring is.

“Hulle het op die een of ander manier dit reggekry om die deur van die wa oop te maak. Hulle het uit die voertuig gespring toe dit stadiger gery het om oor ’n spoedbult in Seodinweg te ry. Hulle het die veld in gevlug. Die sigbare polisiëringseenheid en die honde-eenheid is ontbied om na die mans te soek. Hulle was onsuksesvol,” sê Kock.

Kock sê ondersoek word gedoen na die ontsnapping en na die twee polisiebeamptes wat die aangehoudenes vervoer het.

Mense met inligting oor die twee vermeende misdadigers word gevra om sers. Patricia Mereotle by 053-712-9831 te bel.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom