Monday 22 December 2014
Home / News / Skoolstraat gevaar vir leerlinge

DIT is ’n nagmerrie in Skoolstraat wanneer leerlinge van die Laerskool Kuruman smiddae uit die skool kom.

Die woordvoerder van die skool, Hester Engelbrecht, sê: “Om die algehele ongeërgdheid van motoriste en die munisipaliteit teenoor die veiligheid van die kinders en die padreëls van ons land te sien is die twyfelagtige voorreg waarmee onderwysers van die skool daagliks te doen kry.”

“Dit is ’n groot bekommernis vir die personeellede, omdat die veiligheid van alle leerlinge van die skool van groot belang is.”

Die skolierpatrollie van die Laerskool Kuruman ondervind baie probleme om hul rol as patrollielede uit te voer. Die doel van die skolierpatrollie is om honderde leerlinge daagliks te help om die straat veilig oor te steek.

Terselfdertyd raak leerlinge van padreëls en die gehoorsaamheid daaraan bewus.

“Maar motoriste wat hulle glad nie aan verkeersreëls steur nie, maak dit bitter moeilik vir die patrollielede en diensdoenende onderwysers om hul taak te verrig. Die grootste probleem is mense wat op die patrollie-oorgang, sowel as die rooi strepe, parkeer,” sê Engelbrecht.

“In baie gevalle kan die patrollieborde nie oopgemaak word om die pad vir die verkeer toe te maak nie, omdat die motors reg voor die borde geparkeer staan.

“Wanneer motoriste gevra word om hul voertuie te verwyder (dit is nou wanneer hulle nie net parkeer nie, maar ook die voertuig verlaat om sakeondernemings te besoek), word die onderwysers en kinders gevloek en baie duidelik laat verstaan dat die bestuurder eers sy of haar passasiers gaan op- of aflaai voordat die voertuig verwyder sal word.”

 

Niemand gee aandag nie

Skoolstraat is onlangs geteer en daar is dus nog nie strepe by die voeroorgang geverf nie. Engelbrecht sê die skool het al herhaalde versoeke aan die plaaslike munisipaliteit gerig, maar dit is nog nie gedoen nie.

Verskeie oproepe deur die waarnemende skoolhoof, Floyd Turner, om ’n verkeersbeampte by die oorgang in Skoolstraat te kry wanneer die skool uitkom, is geïgnoreer. “Kinders en onderwysers moet dit waag om met ’n hand-stopteken in die middel van die pad te staan om die swaar verkeer van albei kante te stop sodat die leerlinge die straat kan oorsteek,” sê Engelbrecht.

 

Straatsmouse

’n Verdere probleem is die straatsmouse wat ’n moontlikheid raakgesien het om sake te doen deur ná skool vrugte-ysies te verkoop.

Engelbrecht sê: “Dit maak nie saak hoeveel keer hulle gevra word om op die gras of sypaadjie met hul winkeltrollies te staan sodat die kinders uit die straat kan kom nie, hulle steur hul net nie aan die onderwysers of skoolhoof nie en gaan houtgerus voort met hul sake. En soos kinders is, hardloop hul soms reguit oor die straat om ’n ysie te gaan koop sonder om te wag totdat die voetoorgang veilig is.”

 

Busse, taxi’s en motors

Die busse, taxi’s en motors wat in Skoolstraat dubbel parkeer om kinders op te laai lei tot verkeersopeenhopings en frustrasie by ander motoriste. Kanse word gewaag om die dubbelparkeerders verby te steek sonder om te weet of kinders die voetoorgang gebruik.

“Die straat lyk partykeer soos ’n pad met vier bane soos motors dubbel parkeer en verbygesteek word. Veral wanneer daar ’n byeenkoms in die stadsaal is, is die probleem nog groter,” sê Engelbrecht.

“Die afgelope week was Skoolstraat ’n nagmerrie met motorfietse wat reg voor die hekke en motors en taxi’s voor die borde geparkeer was. En toe motoriste aangespreek is, was die verweer daar is dan nie strepe geverf nie.”

“Dit is net genade dat ’n kind nog nie in Skoolstraat raakgery is nie,” sê Engelbrecht.

“Eers wanneer die munisipaliteit gehoor gee, die strepe verf en elke dag ’n verkeersbeampte by die voetoorgang aan diens het, sal dit veilig wees vir kinders om die voetoorgang te gebruik.

“Gaan dit eers ’n tragedie kos voordat die saak aandag gaan kry?”

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE & BACK COPIES

top
HAVE YOUR SAY Suggest future poll
Vakansie
Gaan jy die vakansie …?
Weg met vakansie
Tuisbly
Na familie vir Kersfees
top
bottom