Thursday 24 April 2014
Home / News / Ouer ontevrede

’n OUER van ’n gr.9-leerling het ’n beswaar by ’n hoërskool in die distrik John Taolo Gaetsewe oor die keuse van die voorgeskrewe boek Spud vir gr.9’s ingedien.

“Ek meen die materiaal is pornografies en neem ’n neerhalende houding teenoor die vroulike geslag in. Dit is nie geskikte leesstof vir ’n 14-jarige Christelike leerling wat met morele waardes opgevoed word nie. Ons taak as ouers en onderwysers is tog om ons kinders op te voed. Om hulle in ’n groep in klasverband bloot te stel aan beskrywings van jong seuns se geslagsdele en masturbasie vervul tog nie die taak nie en maak sensitiewe kinders net verleë. Die minagting van die volwassenes se gevoel oor die boek en die gebrek aan terugvoering ná my gesprek met die skoolhoof skep die indruk dat opvoeding nie meer ons taak is nie,” meen die ouer.

Die voorsitter van dié betrokke skool het gereageer op die ouer se beswaar deur verskoning aan te bied vir die lang tydperk wat dit geduur het (18 Januarie tot 18 Februarie) om die saak met die skoolbeheerraad te bespreek, aangesien die beheerraad hom eers van die inhoud van die boek moes vergewis het. Die uitkoms van die bespreking is in ’n brief aan die ouer geformuleer: Die skool beskou dit as die ideale geleentheid om aan leerlinge uit te wys waar leerlinge immoreel optree. Dit is dus juis ’n geleentheid vir leerlinge om die korrekte waardes aan te leer. Die onderwysers betrokke onderneem ook om die sensitiewe dele in die boek vir selflees as tuiswerk te gee en dan in die klas op die aanleer van die regte waardes te fokus. Wat die leesboek betref, was die besluit van die volle skoolbeheerliggaam op die aanbeveling van die finansiële komitee dat die skool nie nou die uitgawe kan bekostig om die reeks te vervang nie en dat die leerlinge dus sal voortgaan om dit te lees.

Die ouer was nie tevrede met die antwoord nie. Die ouer meen om te sê dat korrekte waardes aan leerlinge geleer word deur immoraliteit uit te wys is ’n belaglike opmerking.

“Met ander woorde, as jy hoë morele waardes by jou kind wil kweek soos om nie na pornografie te kyk nie, moet jy vir hom of haar ’n paar pornografiese flieks wys en sê: ‘Reg, my kindjie, jy moet dit wat jy nou gesien het nooit doen nie’.

“Die skade is mos dan reeds gedoen. Of die boek voorgelees word en of daar selflees plaasvind, dit bly steeds geskrewe pornografie,” meen die ouer.

Enigeen wat die boek ken en graag daarop kommentaar wil lewer, kan kommentaar na die koerant (annerie.louw@volksblad.com of faks 053-712-0303) stuur. Kommentaar kan ook op die webblad www.kalaharibulletin.co.za by die berig gelewer word.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
HAVE YOUR SAY Suggest future poll
2014 Verkiesings
Langs watter party gaan jy jou kruisie trek?
ANC
DA
VF+
Ander
top
bottom