Saturday 29 November 2014
Home / News / Steeds soek

DIE polisie soek steeds na inligting en verdagtes nadat ’n aansienlike hoeveelheid wesseliet in Desember in die Kuruman-polisiekantoor gesteel is.

Die georganiseerde-misdaadeenheid ondersoek die beweerde diefstal van onder meer 447,52kg wesseliet waarop in November 2011 beslag gelê is.

Lt. Sergio Kock, woordvoerder, sê die wesseliet was bewysstukke in verskeie strafsake.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie vra enigiemand met inligting moet ao. Henk van der Merwe by 082-447-1250 bel,” sê hy.

In een van die grootste sake in sy soort is 31 mans, onder wie mynwerkers en sekuriteits- en polisiebeamptes, in Julie 2011 aangekla weens die beweerde diefstal van wesseliet en die onwettige besit van plofstof en koperdraad.

Die saak is verskeie kere uitgestel weens verwarring oor wie van die regsverteenwoordigers watter beskuldigdes verteenwoordig.

Dit is later in kleiner sake verdeel waarvan een na die streekhof oorgeplaas is.

Die streekhofverhoor, waarin 22 verdagtes verskyn, begin in Junie vanjaar op die dorp.

Die vermoede is die mans het onwettig met die edelsteen wesseliet van meer as R14miljoen handel gedryf.

Dié edelstene is na bewering in mangaanmyne in die Kalahari gesteel.

Dit het gekom nadat polisie-agente die sindikaat sedert 2009 binnegesypel en wesseliet van meer as R14miljoen by hulle gekoop het. Destyds is benewens die wesseliet ook op 29 selfone, dokumente en ’n weegskaal beslag gelê.

Talle huise in woonbuurte van Hotazel, Kathu, Black Rock en Sishen is in ’n omvattende polisie-optrede deursoek.

Beslag is gelê op twee BMW-motors waarvan die een ’n gemerkte polisievoertuig is wat vermoedelik gebruik is om die edelstene en die verdagtes te vervoer wanneer die onwettige transaksies beklink is.

Wesseliet is ’n pers edelsteen wat net in mangaanmyne aangetref word.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE & BACK COPIES

top
HAVE YOUR SAY Suggest future poll
Vakansie
Gaan jy die vakansie …?
Weg met vakansie
Tuisbly
Na familie vir Kersfees
top
bottom