Die spreekwoordelike jagseisoen het my soos die jagter self, oorval. Die jagdatums is reeds aan my deurgegee, ek neem aan dis om my stilweg voor te berei op my jagweduwee status. Na aanleding van die datums blyk dit dat ek die jagseisoen agt keer manloos gaan wees, dus agt naweke die koue nagte sal moet trotseer en agt keer my man sal moet afstaan vir vleiswerk.
In die sewe jaar van getroude lewe kon ek nog nooit die geveg wen nie, jag is in sy bloed, jag is deel van manwees. “Live with it and suck it up.” Ek en `n boesemvriendin bekla ons lot oor die komende jagseisoen en ons kom tot die konklusie dat ons, as ma`s, nooit die kroos net so sal kan los en `n Spa-naweek sal kan bywoon nie. Ons ingebore moederskap weeg swaarder as twee nagte van pamperlang, weg van manlief en die kinders. Die twee manne verduidelik dat hulle ons op geen staduim terughou nie en gun hulle vir ons, so `n wegbreek. Ongeag die aanmoediging bly die verpligting van ma-wees belangiker en tilt die weegskaal swaarder na die kant van moederskap.
Jagplase is reeds vroeg die jaar gegoogle en die pryse van elke bok is aan elke deelnemende jagter gestuur. Die ipad word daagliks gebruik om teleskope en gewere op te soek. Jagvideos word oor en oor bestudeer. Die lekkerte hieraan bly vir my `n misterie.
Ek het die datums in my dagboek aangebring, ek is besig om myself sielkundig voor te berei vir die weduwee fase en ek rou klaar oor my manlose winteraande. Sewe jaar later en die gedagte aan die jagseisoen is nou meer aanvaarbaar. Ek sien uit na my inkopie-togte wat voorlê en die gevestigde bergrip by manlief dat dit dieselfde is as jag.